Dag 20: My Gesag word Ondermyn

0 comments


My gesag word ondermyn en dit het te doen met wat ek sien as myne.  Gesag is gewoonlik nie sag nie en die uitoefening van gesag is gewoonlik gepaardgaande met aggressie, geweld en beheer, fisies of in woorde. 

Ondermyning van my gesag is waar my selfwaarde ontwrig word deur die gebeurtenisse  wat my laat voel dat ek nie in beheer is nie. My gebrek aan beheer dui aan dat die gesag my beheer en my heer is.  Die gesag is dan ook dit wat my posisie  aan myself weergee.  Wanneer ander  my  gesag nie respekteer nie, is my selfwaarde as posisie bevraagtekend.  Dit dui aan dat dit waarop ek my selfwaarde baseer, nie waar is nie.  Die bas noot van die klank van my woord ontbreek dus. Die feit dat dit onder is in ondermyn beteken dat die gebrek aan selfwaarde net aangedui word, wanneer my oorspronklike motivering vir gesag bevraagteken word op een of ander manier.  Dus is die ondersoek van alle dinge veral die ondersoek van dit wat onderliggend is aan my selfwaarde dringend nodig.  Onderliggend is die fondasie van my lig van verstaan en dit wat my oplig.  Wanneer die fondasie nie ‘n ware fondasie is wat die lewe en beeld van die lewe waardig is nie, dan vind ek dat ek maklik ondermyn kan word.

Wat my fondasie is, is die feit dat my werklike selfbeeld die beeld van die lewe is wat in fisiese vorm uitgedruk word as persepsie, klank, gevoel, kreatiwiteit, liefde, woorde, wysheid ens.  Wanneer die onderliggende selfbeeld se definisie ontbreek, word ‘n vals selfbeeld geskep en ons blaas dan ons beul trompet baie harder en sê Kyk, hier is ek, Kyk wat kan ek doen!, Kyk, ek is beter as jy! Kyk, whê, whê, whê, whê, whê!  Die ondermynende inligting wat aan die mens geleer word is die onderliggende rede vir konflik op alle terreine van die lewe. Voorbeelde van oorlewing, kompetisie, wen, woede, manipulasie, gierigheid, dreigemente ens.  Om nee te sê vir die beheer van ons onderliggende fondasie deur die beheer van inligting en ‘n gebrek aan kennis van hoe die onderliggende basis van selfbeeld van die mens werk, bring bevryding, en die geleentheid om die lewe weer toe te pas met ‘n passie wat werklik liefde en vrede uitleef. 

Aan die vrug sal die boom geken word en die vrug is ons woorde. Ons woorde vorm dan die fondasie van ons dade en na die bewuswording van ons wording as woorde is daar ‘n tyd wat ons eers moet skoonmaak met vergifnis en deur die toetse van versoeking gaan om te sien of ons werklik verander het.  Elke aksie moet dus ondersoek word om te sien wat die onderliggende motivering van die aksie is.  Dus, waarop is die aksie gebaseer en waar kom die inligting vandaan wat die aksie motiveer en wat is die doel van die inligting wat die aksie motiveer.  Hierdie proses is waar ons proe aan elke aksie  en dit ondersoek  om te sien of dit werklik is wie ons is.  Werk ons aksies dus binne die basis van  doen aan ‘n ander wat jy aan jou gedoen wil hê, asook, is ek lief vir myself wat my toelaat om ander te verstaan en lief te hê.  Wanneer die onderliggende fondasie van jouself nog nie gevind is nie, word jou siel nogtans verkoop  aan omstadighede, en moet jy uitvind wie het jou siel in pag,  die omstanders wat deelneem aan jou lewe en wie in die kleine en die groter wêreld jou beheer en jou optrede bepaal.

Sê nee en proe aan die proses van genesing van jouself, jou selle,  en weet dat jy altyd die selle is, gister, vandag en tot in all ewigheid.  Wanneer hierdie inligting nie die onderliggende fondasie van jou lewe is en in volle verstaan word nie, ondermyn jy jouself en is dit tyd om nee te sê vir alles wat die inligting verdraai en jou siel verraai.  Hou op om te raai wie jy is, ondersoek jouself en sien wat in jou selle geskryf is.  Die kwessie van die gees is gewillig, maar die vlees is swak, is die lewensplek wat misbruik word om die inligting te verdraai en raai, raai, riepa te speel.  Hou op om jouself te veraai deur toe te gee aan die raaisel van die lewe soos voorgestel deur die wat nie verstaan nie en wat nie die ewebeeld van God wil uitleef nie.  Verstaan is verstaan  -  om nie te verstaan nie,  is om nie te verstaan nie.  Weet is weet, nie weet nie is nie weet nie, wie is jy?  Weet jy of nie?  Verstaan jy of nie? Vra God om jou te wys en vind uit vir jouself.

VAN OORDEEL NA BEWUSTHEID

Oordeel is wanneer ons ons Oor deel met ander.  Dit is ‘n aanduiding van ‘n gebrek aan bewustheid en verantwoordelikheid, want ons wil nie ons eie antwoord en woorde glo nie.  Bewustheid is die wiskunde van aksie en gevolg, dus woorde en dade.  Aksie en gevolg is die natuurlike uitkoms van uitdrukking in vorm, weereens woorde en dade.  Dus die natuurlike gevolg van ons doen en late.  Bewustheid is die verstaan van die gevolg van doen en late.  Wysheid is om die aksie en gevolg uit te voer met bewustheid sonder om jou aan die oordeel (van ander en jouself) te steur en sonder om jou Oor met ander te deel want jy verstaan die groter prentjie. Jy skilder jou eie skildery sonder skuld en sonder om  ‘n skild te dra om jou te verdedig, want jy vind God se vrede.

Die gevolge van oordeel  het as doel die doelbewuste bewusmaking van die mens as bewustheid in vorm.  Dit wil sê dat die wil van die lewe  is die bewuswording van die mens deur die Oor te deel met pyn en smart.  Om dus die pyn en smart te verminder, moet mens die mindere  wees en die oordeel laat gaan.  Oordeel en die verstaan van die mindere is net moontlik met die bewustelike verstaan van die lewe.  Die beteken nie om nie ook in aksie oor te gaan nie.  Aksie met volle bewustheid dirigeer die lewe soos ‘n orkes en eers aan die einde is die volle waarheid van  bewustheid, alhoewel die bewuste aan die begin bewus was van die waarheid het die die bewustheid  nou in aksie oorgegaan.  Die aksie vir die blinde en dowe sonder bewustheid, maak die dowe en blinde baie bewus van hulle gebrek aan bewustheid deur die gevolge van hul onbewuste optrede ( Dit is bekend dat blindes se sintuie soms beter ontwikkel is en gebruik word as die sienende persoon). Die wet van die lewe is die wet wat die natuur as voorbeeld aangee vir die mens om na te volg as hy wil en so te leer waar sy waarheid te kort skiet in verstaan.

Die menslike natuur volg, of die natuur van die lewe, of die natuur van die sondes van die vaders.  Die gevolge is natuurlik binne die natuur wat die mens volg.  Op die huidige oomblik is die mens op sy blindste, want al die vals lig of sal ons sê onnatuurlike lig van menslike skeppings onder die sondes van die vaders verblind die mens  vir die natuurlike lig van die lewe en in die proses word die natuur verwoes.  So as dit woes gaan met die mens, dan broei ‘n storm uit en die kleintjie wat nou groot gemaak word as ‘n gevolg aan die verwoesting, is die besoek van die dier as mens. So skep ons woeste tuine as woestyne.  So is die kringloop wat die mens loop tot hy die kring sien en dan lui die klok en dit wat lok en uitlok, word gesien vir wat dit blok – die lig word geblok deur dit wat uitlok.  Sê nee vir die lok van uitlok en word genees.  

Ontblok jouself.  Sê nee vir die verwoesing op die planeet en word genees van verwoesting.  Sê nee vir die onnatuurlike lig wat die natuurlike lig verblind en word genees van blindheid.  Sê nee vir oordeel en waarmee jy jou Oor deel en word genees.  ‘n Genesing wat jou jou oorspronklike deel aan die lewe oorgee.  Die nee van genees, die gee van oorgee en die Oor van oordeel.  Laat alle ore hoor voordat die 2 ore van gebore die  1 oor van oorlede word, en stof tot stof, net stof tot nadenke los in die bedenklike toestand wat die mens se denke nou is. Dan  is die pyn van tandetrek die toestand wat weer verstand aan die omstandighede gee waarin ons beland het.

KOM VAN BEKOMMERD

Wanneer die vrees my bekom  van wat my toekom, dan verander my  onsekerheid van my eie vermoë van uitdrukking in bekommernis.  Ek wil graag hê my toekoms moet so seker wees soos die vorm van ‘n komkommer, anders word ek bekommerd. Die enigste realiteit van bekommerdheid is die prentjie van bekommerdheid in my kop waaraan ek  regte  waarde heg. Wanneer ek egter in die situasie beland waaroor ek my bekommer, is daar verskeie moontlikhede.  Ek kan die prentjie in my kop uitleef as ‘n uitdrukking van wat binne in my aangaan, want die prentjie is deur my geskilder.  Ek kan die situasie sonder vooroordeel benader en dan my bewustheid toepas as vorm  en  verstaan  en kan ek sien hoe die lewe  voor my ontvou.  As ek die kans nie neem nie, dan vou ek voor ek by die toekoms kom en die ontvouding  ( gewaarwording ) wat my toekom, ontvou nooit in ‘n noot nie.    Wanneer die prentjie in my kop deur my as my waarheid uitgeleef word, het ek darem die geluk dat wat ek geglo het, waar geword het.  Maar as ons hierdie aap uit die mou laat, sien ons dat die bewys  van ons geloof nie geloofwaardig is nie.    Die sprokie wêreld waarin ons leef is soos ‘n sprokies karakter wat gedurig aan homself wil bewys dat hy reg is en geloofwaardig is en dat sy evaluasie en prentjie  van ‘n situasie reg was.  Die waarheid kan egter net ervaar word wanneer die mens in elke oomblik onvoorwaardelik toelaat dat die lewe ontvou en dan deelneem aan die ontvouding deur in die oomblik van die gebeurtenis, jouself toe te pas as die lewe in uitdrukking volgens die natuurwette.  

Net soos die boom buig voor die wind waar die wind nou waai en die boom se blare musiek maak in die wind, pas ons ons vryheid dan toe in die ontvouding van die oomblik deur daaraan deel te neem volgens ons huidige vlak van verstaan.  Die meester van die situasie is dan die mens wat die beste maak van elke geleentheid en sien dat dit net geleen is en in ‘n oomblik verby is en dan is die volgende oomblik hier om aan deel te neem.  Die brommer van bekommerdheid  is die mens wat alles bepaald wil hê voor hy/sy daar kom.  Die gebrom as alles nie uitwerk soos die prentjie in die kop nie, is ‘n geraas wat ook met die volgende geleentheid  daarna oordonder word.  Nou is die lewe dieselfde – brom van oomblik tot oomblik.  Om nee te sê aan die verwagting dat alles volgens die prentjie in my kop werk, genees jou en laat jou toe om die polsslag van die oomblik te voel en dan met jou volle deelname die oomblik volgens jou keuses en verstaan te beïnvloed en te ervaar.  Geen  vrees nie wetende  dat die vaderlike wet van elke oomblik  net die beste verlang vir elke kind van die vader.  Wanneer ons verlange en vertroue in die vader die verlange en vertroue van die vader van lewe  ontmoet, leef ons ten volle en is ons vervul.

Laat ons nie toelaat dat die groot onderdrukking van onsself voortgaan deur prentjies wat ons skilder en nie verstaan nie, want dan is ons lewens gebrekkig. Openbaar jouself nou en sê nee vir die onderdrukking van jouself, lewe die lewe van die Vader van volheid en volmaaktheid sonder om jou te bekommer.

comments (0)

Post a Comment